Lukas 22: 60-62

Petrus sou hierdie nag vir ewig onthou – hoe hy daar saam met Jesus se vyande gesit het, hoe hulle hom herken en begin beskuldig het, en sy uitdruklike ontkennings: Man, ek ken Hom nie! En dan Jesus se kyk, sonder enige woorde. Jesus het bloot omgedraai en na Petrus gekyk, en toe breek Petrus se hart in stukke.

Wat was in daardie kyk van Jesus? Pyn, hartseer en teleurstelling, maar ook liefde. Liefde vir die sondige, gebroke Petrus. ’n Dissipel, ’n vriend wie se sonde nog nooit voorheen gemaak het dat Jesus Hom minder lief het nie. Hierdie verloëning van hom het ook niks aan Jesus se liefde vir Petrus verander nie.

Hierdie oomblik was Petrus se eerste tree na genesing. Met Jesus se kyk het Petrus homself vir die eerste keer duidelik gesien. Hy het sy dade eerlik beskou en die liefdeloosheid daarin besef. Hy het sy gebroke beloftes gesien, maar ook Jesus se vergifnis. Hy het onthou dat Jesus hierdie gebeure voorspel het en dat Hy Petrus steeds in sy geselskap en in sy hart toegelaat het. Hy sien raak dat alhoewel die ergste denkbaar gebeur het, Jesus se hart nie verander het nie.

Jesus het ons met dieselfde liefde lief. Geen van ons sonde is vir Hom ’n verrassing nie. Hy het gesterf om dit alles uit te vee. En Hy het opgestaan sodat Hy ons vir Homself kan toe-eien en vir ons ’n ewige lewe kan gee. ’n Ewige lewe wat ons saam met Hom gaan deurbring, in liefde en vreugde – vir altyd!

Kom ons bid saam: Liefdevolle Verlosser, wanneer ek val, kyk na my met dieselfde oë waarmee U na Petrus gekyk het daardie nag; vergewe my en genees die wonde. Amen.

Stap vandag in met die volgende seën: Mag die vrede van ons Here, Jesus Christus, met jou wees, waarheen Hy jou ook al vandag mag stuur. Mag Hy jou lei deur die wildernis en jou beskerm deur die storm. Mag Hy jou veilig tuisbring met vreugde in jou hart.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap