Psalm 107: 26-32
Here, my bootjie is so klein en u see is groot… So begin die bekende Breton-vissermansgebed. Ons lewe voel soms soos ’n bootjie op die wye oseaan. Onder vroeë Christene was die beeld van die boot populêr. Bote is deur die wind of roeispane aangedryf. Dis gebruik vir visvang, handeldryf en reistogte.
Storms op die see was algemeen bekend (1 Kon 22: 49; Jona 1; 2 Kor 11: 25-26). Jesus het die storm stilgemaak toe Hy en die dissipels uitgevaar het op die see (Mark 4: 35-41). Bote of skepe is gesien as simbole van beskutting. Die grootste voorbeeld hiervan is Noag se ark waardeur hy en sy familie gered is (Gen 6-8,) en die kleine Moses wat in ’n mandjie op die Nyl gespaar is (Eks 2).
Christene het ook die boot as simbool op grafte gebruik. Dit was ’n teken dat die persoon wat gesterf het, uitgevaar het na die ewige heerlikheid by God die Vader. Selfs in ons kerkgeboue word die middelste deel van ’n kerk “die skip” genoem.
Jakobus gebruik die klein roer wat ’n groot skip stuur as beeld van die tong se groot mag (Jak 3: 4-5). Paulus sê dat mense wat nie werklik diepte in hul geestelike lewe het nie, soos bote op die see is wat deur die winde van dwaalleer heen en weer geslinger word (Ef 4: 14).
Een van mooiste gedeeltes in die Bybel wat getuig van God se sorg, is Psalm 107. Veral van vers 27 af word die beeld van skepe gebruik. Jy kan in jou geestesoog sien hoe die bekwame seemanne magteloos probeer vaar op die stormsee, totdat hulle smekend vir God om hulp vra en God hul gebed verhoor en die storm stilmaak.
John Newton was ’n ateïs en sy lewe was vervalle toe hy in Maart 1748 op die stormsee op ’n sinkende skip sy laaste uitweg by God gesoek het. God het geantwoord. Die storm het bedaar, Newton het God deur die storm leer ken en hy het die lied Amazing Grace geskryf. Ons lewensboot gaan deur storms, maar met God op ons lewensboot is daar veiligheid en hoop.
Ds Louw van der Linde, Evander