Matteus 24: 1-14

Een van die algemeenste vrese van mense, is die vrees dat hierdie wêreld binnekort gaan vergaan. Die doemprofete vertel dit gereeld vir ons. Hollywood is daardeur vasgevang, want omtrent elke tweede film wat gemaak word, gaan oor die eindtyd.

Om te lewe, is ’n gevaarlike ekspedisie. Ons sluit ons dae in die skaduwees van vreesaanjaende werklikhede. Maar God het die pyn van hierdie wêreld lank terug soos ’n bekwame dokter gediagnoseer. Hy het spesiaal ’n boek laat skryf vir die behandeling van hierdie pyn. Die Bybel is vol waarskuwings teen die gevaarlike wêreld waarin ons bly. Daar is geen nut daarin om jouself ’n rat voor die oë te draai en om voor te gee alles is reg nie, maar tog vra Jesus ons ook om nie verskrik te word nie (vers 6).

Nadat die bomme van die Tweede Wêreldoorlog die stad Warschau se onderdorp platgevee het, het daar net een geraamtestruktuur in die hoofstraat bly staan. Die verwoeste struktuur was die Poolse hoofkwartiere van die Britse Bybelgenootskap. Die woorde op die enigste muur wat bly staan het, was maklik leesbaar: Hemel en aarde sal vergaan, maar my woorde nooit…

Jesus sit op die Olyfberg, oorkant die stad Jerusalem, en Hy gee vir sy dissipels die volgende waarskuwing: Maak julle veiligheidsgordels vas, daar is nie nou tyd vir enige ligsinnigheid nie, hierdie lewe kan fataal wees vir jou gesondheid. ’n Lewe saam met Hom is nie noodwendig ’n maklike reis nie, tog belowe Jesus dat Hy met elke tree by ons sal wees. Jesus begin met onverwagte woorde: Pas op dat niemand julle mislei nie (vers 4). Hy vertel dan van valse leermeesters wat in die laaste dae sal opstaan…

As dit lyk asof die wêreld buite beheer is – dit is nie. Ons kan vertrou dat God heilig, goed en liefdevol is, maar ook in beheer. Ons visie is beperk: Wat lyk soos verval, mag eintlik dalk oorwinning en triomf wees. Wat lyk soos hartseer, mag eintlik dalk genesing wees. Ons moet vertrou dat God is wie Hy sê Hy is.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link