Lukas 18: 9-14
Baie keer fokus ons meer op wie reg en verkeerd is, eerder as om die konteks te probeer verstaan. Hierdie gedeelte wil nie ’n uitspraak lewer oor wie reg of verkeerd is nie, maar nooi jou om die konteks waarin die gelykenis vertel is, te ondersoek: Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel (vers 9).
Jesus gebruik karakters uit ’n sekere agtergrond om ’n punt te bewys. Die priester kom uit ’n tradisie waar dit belangrik was om die wet na te kom – om die regte rituele op die regte tye te doen. Tog was daar sommige wat op ander neergekyk het as gevolg van hul dade. Jesus wil hierdie mense daaraan herinner dat rituele nie jou verhouding met God verseker nie. Die feit dat jy dalk meer doen as wat jou geloofsgebruike van jou verwag, maak nie dat jy beter is as ander nie, want dade verseker nie genade nie. Jou verhouding met God, jou gesindheid en die redes waarom jy sekere rituele volg, is belangrik: Is dit omdat jy voel jy moet, of is dit omdat dit ’n innerlike en persoonlike reis in jou verhouding met God is?
Jesus plaas die Fariseër teenoor ’n tollenaar. Tollenaars is beskou as sondaars omdat hulle geld gesteel het. Maar nie alle tollenaars het so gelewe nie, en daarom keer Jesus die mense om weer eens te veralgemeen. Dit gaan oor die tollenaar se gesindheid en die eerbied waarmee hy tot God genader het. Jesus herinner die mense aan watter gesindheid God se wil van jou vra – afhanklikheid en nie sekerheid in jouself nie.
Ek nooi jou op ’n pelgrimsreis, nie te voet nie, maar na binne. ’n Pelgrimsreis dwing die reisiger om van elke tree bewus te wees. Met elke tree moet jy jou Lig ken, jou slegte gewoontes konfronteer, jou ek-gerigtheid raaksien en nie op ander mense fokus nie. Waag dit om saam te reis!
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
