Lukas 24: 13-26
Die Evangelie volgens Lukas en die boek Handelinge begin met die gebruik van ’n besondere naam: Teofilus. Met die betekenis: Vriend van God. Laat my toe om jou die volgende sewe dae so aan te spreek.
Twee mense op pad. Sleepvoetend. Hangende skouers. Beswaarde gemoed. Diep teleurgesteld. Moeg. Hul hoop en verwagting lê aan skerwe. Vriend van God – dan is 12 kilometer ’n baie lang pad! As ons na die wêreld kyk, voel en lyk dit soms na ’n hopelose saak. Daar is oorloë, gerugte van oorloë, aardbewings, storms, en ongety. Maar nie net daar ver nie, selfs baie nader as wat ons wil hê. Ja, in my en jou lewe is daar die spreekwoordelike dorings wat ons tot wanhoop en daarmee saam tot verwagtingloosheid dwing.
Nou wil ek jou vra: Hou moed. Bly hoop. Ons moenie toelaat dat die donker om en in ons ons onderkry en ons hooploos laat nie. Wat voorlê, wag met angstigheid om in vervulling te kom. In die vervulling van God se Woord lê ons hoop en verwagting. Dink daaraan: Hy, die Almagtige, het dit wat die kerk herdenk, alles vooraf laat aankondig en in vervulling laat gaan. Hy het ook die donkere gebeure en ervarings en ook dit wat nog moet kom, laat aankondig. Alles is maar geboortepyne vir sy wederkoms. Sy woord gaan in vervulling. Dit gee hoop.
Ja, Vriend van God, ons is mens en die dorings is eie aan ons lewe, maar kom ons lewe met die blye hoop en verwagting dat Hy weer sal kom. Hy bly immers getrou aan sy woord. In die dag, met swaar hart en donker gemoed, op pad weg van Jerusalem af maar met borrelende vreugde, opgewonde in die donker nag, is hulle terug Jerusalem toe met nuwe hoop en verwagting. Sekerlik was die 12 kilometer toe nie lank nie.
Vriend van God, mag jy op jou aardse reis, op pad na die nuwe Jerusalem, elke dag vervul word met blye hoop en verwagting.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)