Jakobus 2: 14-17

In Charles Schulz se klassieke strokiesprentreeks Peanuts tref ons eenmaal vir Charlie Brown en sy vriend Linus aan waar hulle deur diep sneeu stap. Die wind waai en die sneeu val. Hulle is albei warm en snoesig aangetrek met dik wolmusse, serpe, baadjies, wolhandskoene en sneeustewels. Dan sien hulle vir Snoopy die hond waar hy voor sy hondehok sit. Snoopy lyk erg verrinneweer deur die koue – honger en misrabel. Hy kyk hulle bewend en smekend aan. Charlie sê dan: Dit lyk of Snoopy baie koud kry. Linus antwoord: Beslis! Dalk moet ons iets vir hom doen sodat hy beter kan voel. Hulle stap dan nader en eers sê Linus: Wees vrolik, Snoopy. Charlie sê dan ook: Wees vrolik, Snoopy. Terwyl hulle verder aanstryk deur die sneeu, kyk Snoopy hulle in die laaste paneel met ’n vraende blik agterna – steeds bewend van die koue… 

Dit is asof die kunstenaar Jakobus 2: 14-17 in gedagte gehad het toe hy die strokie geskep het. Jakobus skryf vir mense wie se geloofslewe net in hul koppe afspeel en dalk van daar af nou en dan hul harte bereik, maar nooit by die hande uitkom nie. Kop, hart en hand moet saamwerk in ’n fyn balans en harmonie in ’n betekenisvolle geloofslewe. Ons meelewing moet oorgaan in aksie.

Die Christelike godsdiens se doel was nooit om net oordink te word nie. Dit was van die begin af primêr ’n doen-godsdiens – ’n aksie wat die nood van ander raaksien en hand uit die mou steek en poog om iets daaraan te doen. Selfs waar Jesus leerstellige argumente met sy teenstanders aanknoop, is dit om vir hulle ’n goeie leefwyse te leer en om die lewens van mense te verbeter. In plaas daarvan om te veroordeel, voor te skryf en opinies op ander af te dwing, volg Hóm wat altyd ander se lewens verbeter het, veral dié op die rand van die samelewing. Sit diens terug in jou godsdiens, en God sal ook deel wees van jou godsdiens.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Copy link