Handelinge 1: 9-11

Deur die loop van Jesus se bediening het Hy gedurig vir die dissipels presies vertel wat alles met Hom gaan gebeur. Hy het gesê dat dit alles moet gebeur en dit is die rede hoekom Hy na die aarde toe gekom het. En alles gebeur presies soos Jesus dit aan hulle vertel het. Nadat Jesus uit die graf opgestaan het, moes die dissipels gelukkig gewees het, want dit is net soos Jesus gesê het dit gaan gebeur.

Al wat nou nog moet gebeur, is dat Jesus moet opvaar na die hemel toe. En daar, voor almal, gebeur dit. Jesus gaan terug na die Vader toe en al die beloftes wat Hy gemaak het, is vervul.

Hoeveel sekerheid en geloof moes dit nie in die dissipels se harte gelaat het nie. Een van die laaste opdragte wat Jesus vir die dissipels gegee het voordat Hy opgevaar het na die hemel toe, is om dissipels van al die nasies te gaan maak (Matt 28: 19a). Die dissipels, ek en jy, moet met die koninkryk van God gaan besig wees en besig bly in die wêreld. Ons moet die liefde en genade van God in die wêreld gaan bekendmaak. Ons moet ywerig en dinamies besig wees met God se koninkryk.

Tog staan die dissipels stil en kyk op na die hemel. Hulle staan moedeloos en hartseer na die hemel en kyk, totdat die engel hulle herinner dat Jesus weer na hulle toe gaan terugkeer. So hulle hoef nie so bedroef na die hemel te staan en staar nie. Hulle elkeen kan die werk gaan doen wat Hy van hulle gevra het.

Ek en jy is in hierdie wêreld, maar ons is nie van hierdie wêreld nie. Ons het ’n opdrag gekry om aktief besig te wees met die koninkryk van God. Kom ons doen dit dan. Mag ons nie stilstaan en kyk na die hemel nie, maar eerder besig raak met die koninkryk van God.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

af
af
Deel met behulp van
Copy link