Matteus 7: 24-29

Hierdie is sekerlik een van Jesus se bekendste gelykenisse. Ons vind ook die tradisionele kontras tussen die wyse en die dwase man, een wat op sand bou en een wat op rots bou. In die gelykenis word daar nie veel oor die huis self gesê nie. Ons kan egter aanvaar dat albei huise met dieselfde vernuf en kennis gebou sou wees, behalwe vir die fondament waarop hulle staan. Van buite af lyk hulle dieselfde. Ewe goed gebou, maar slegs een sal die storms van die lewe kan oorleef, storms wat die een of ander tyd op elkeen se pad kom.

Dus sê Jesus hier indirek dat wat ons ook al doen of bou, gemeet moet word aan dit waarop dit staan. Anders gestel, al lyk ons hoe goed as Christene, kan ons dalk net die skyn van geloof hê, maar nie enige vaste fondament nie.

Hierdie gedeelte gaan terug na die sogenaamde goue reël aan die begin van die hoofstuk: Doen aan ’n ander net dit wat jy aan jouself gedoen wil hê. Daarna volg vier waarskuwings oor hoe om nie op daardie oproep van Hom om die goue reël te leef, te reageer nie. Hierdie is die laaste van die vier waarskuwings: Moenie op ’n fondament van sand bou nie! Die regte fondament is om Christus se woorde te hoor en dan daarvolgens te lewe. As ons nie ons lewens bou op die evangelie nie, op dit wat Jesus vir ons kom leer en kom doen het nie, bou ons op sand.

Die lewe is vol storms. Storms wat ons daarvan wil weglei om Hom te hoor en om dan so te lewe. Al hoe ons daardie storms kan weerstaan, is om werklik na die evangelie in ons lewens te luister en om erns daarmee te maak om te lewe soos wat Hy van ons vra. Dan bou ons ons huise op ’n fondament van rots. As ons in God glo en in Jesus Christus as ons Verlosser, moet ons lewe dus ook daarvan getuig.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link