Matteus 13: 24-30

’n Lidmaat aan wie niemand hulle eintlik sou steur nie, vertel vir my haar kerkverhaal. Kort na haar troue het sy en haar man ’n kerk gesoek om by aan te sluit. Sy vertel dat hulle uit ervaring geweet het dat daar nie so iets soos die volmaakte kerk bestaan nie. Maar, sê-vra sy vir my: Raai wat het ons gesoek? Ja, die volmaakte kerk – die plek waar hulle net liedjies gesing het waarvan hulle sou hou, die plek waar die predikant ’n uitstaande prediker en ’n briljante herder was, naby die huis, sagte sitplekke (nie daardie harde ou houtbanke nie) en nie te veel lawaaierige, skreeuende kinders nie.

Sy eindig met: Ons het toe nooit so ’n kerk gekry nie. Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde. Byna elke kerk het mense gehad wat jy nie na jou huis sou nooi nie, mense saam met wie jy nie aan die Nagmaaltafel wou sit nie. Ons natuurlike reaksie was om reg in eie hande te neem – om daardie “skynheiliges” uit te sorteer. Maar dit was óns wat moes leer: Dit is nie die Jesus-manier nie en ook nie die Jesus-plan nie. In werklikheid was dit nooit.

Hy het nog ’n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. … Hy antwoord hulle (die slawe):Dit is ’n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ Nee, sê hy, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.” (Matt 13: 24-25; 28-30)

Die kerk is nie volmaak nie. Die kerk bestaan uit koring, onkruid en alles tussenin. Wees geduldig. Vertrou op God se oordeel, eerder as om sake in eie hande te neem. Uiteindelik is dit God wat die goeie van die kwaad sal skei en geregtigheid aan almal sal bring.

Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark

Share via
Copy link
Powered by Social Snap