Prediker 3: 10-15

Twee gedigte in hoofstuk 3 help ons om nuut te kyk na die vraag na die sin van die lewe. Die Prediker se gevolgtrekking in die eerste gedig is dat die lewe gebeur: Die vaste of bepaalde tydsverloop van lewensgebeure kom op jou af, en jy kan niks daaraan doen nie.

Twee gedeeltes (verse 10-11 en 14-15) wat ’n middelste gedeelte (verse 12-13) omsluit, bou voort op die sinloosheid van die bepaalde tydsverloop en die onbegryplikheid van God se werk. Jy is vasgevang in die bepaaldheid van tyd en lewensruimte – of jy dit nou verstandig of op ’n dwase manier hanteer, die uitkoms gebeur soos dit gebeur. Selfs God se betrokkenheid in jou lewe word as willekeurig beleef. By dit alles gee God aan die mens die sware taak om oor die lewe na te dink, al is die werk van God van begin tot einde ondeurgrondelik.

Juis hierdie moeitevolle opdrag bring die Prediker by ’n verrassende insig (verse 12-13): Geniet die lewe so goed moontlik voordat die geleentheid by jou verbygaan. Jy weet immers nie hoe tyd en gebeure teen of vir jou kan draai nie. Hierdie gevolgtrekking spruit uit sy oortuiging dat alles sinloos is. Met alle respek teenoor die Prediker, kan ’n mens vra of dit nie ’n wanhoopsgevolgtrekking is nie. Aan die ander kant kan ’n mens uit eie ervaring van die onbegryplike van die lewe tog begrip hê vir hom.

Vers 11 laat ons uit ’n ander hoek na die lewensgebeure kyk: Naas die bepaalde tyd (kalendertyd), het God ook ’n besef van die onbepaalde tyd in die hart (denke) van die mens gelê. Gesien vanuit God se hoek, is jy nie uitgelewer aan ’n gedetermineerde tydsverloop waaraan jy sin moet probeer gee nie. Hierdie bepaalde gebeure is geleenthede, ingebed in die eintlike tyd: My tye is in God se hand! …oor die troebel van die hede word die tyd oomblikke van ewigheid (Ges 255: 2).

Dan ontdek jy lewe wat sinvol is, ’n gawe van God. Kies dan om saam met God betekenisvol te leef.

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link