Markus 1: 40-45

’n Melaatse was ’n uitgeworpene. Hy het ’n aansteeklike, amper ongeneeslike siekte gehad. Hy is as onrein beskou, ’n sondaar wat deur God gestraf is, en hy moes hom eenkant hou. Al wat hy vir ander mense kon sê, was om van ver af al te roep Onrein, onrein! sodat hulle nie naby hom sou kom nie.

Gewone, rein mense het inderdaad ook ’n gesonde afstand gehandhaaf. As hulle aan ’n melaatse sou raak, sou hulle self onrein word, en boonop dalk aansteek ook en uit die samelewing uitgestoot word. Jesus se optrede wanneer die melaatse Hom nader, is verrassend. Hy draai nie weg nie; Hy sê nie vir die melaatse om op ’n afstand te bly nie. Hy steek sy hand na die melaatse toe uit en raak aan hom! Want Hy wil hom gesond maak.

Hoe tree ons op teenoor iemand wat dalk ’n aansteeklike siekte het? Hoe behandel ons iemand wat deur die samelewing uitgestoot is? Hou ons ’n veilige afstand? Of volg ons in die voetspore van ons Here deur letterlik ons hand uit te steek omdat ons wil help? Een van die redes waarom die Christelike kerk in die eerste eeu ten spyte van vervolging so geweldig gegroei het, was juis omdat die gelowiges soos Jesus gemaak het deur uit te reik na mense wat deur die samelewing uitgestoot is – melaatses, kreupeles, onreines.

Een van die dinge wat verhinder dat die kerk vandag groei, is die feit dat moderne gelowiges by mekaar koek en van ander mense verwag om eers “rein” te word voordat hulle deel van die kerk mag word. So anders as die Here Jesus self. As ons die voorbeeld van die Here wil volg, moet ons die hand uitsteek. As ons ander wil help, moet ons self bereid wees om onrein te word. Selfs vuil en sosiaal onaanvaarbaar. Maar wil ons?

Die verrassende is dan dat hierdie uitgeworpenes die getuies van Christus word. Nie net in dorpe en kerke nie, maar die wêreld vol. En niemand kan hulle weer stilmaak nie.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Copy link