Psalm 65

In Suid-Afrika is daar ’n plek wat, sover ons kennis strek, die oudste en grootste sigbare impakstruktuur ter wêreld is, naamlik die Vredefortkoepel. ’n Meteoriet, groter as Tafelberg, het hierdie gebied getref. Die energievrystelling tydens dié natuurgebeurtenis laat ’n mens stom. Daar het 70 kubieke kilometer rots verdamp, en 87 miljoen megaton energie is vrygestel. Die meteoriet het volgens berekeninge 10 kilometer die aarde binnegedring en met die energie-impak verdamp!

Psalm 65 word ’n “oespsalm” genoem. Die mag en heerlikheid van die Skeppergod word besing. Hierdie mag, kragtige dade en heerlikheid word in die natuur weerspieël. Met die sing van hierdie Psalm het Israel onthou dat hulle in die natuur, sowel as in die geskiedenis, van God se karakter sou leer. God openbaar sy krag en heerlikheid aan ons vanuit Sion. Stom voor die openbaring van sy mag, buig ons en bid ons. Let op na alles wat aan God die lof bring, omdat Hy goed is – mense, berge, see, riviere, weivelde en diere.

Wat sien ons nog raak as ons na die wêreld rondom ons kyk? Hoe lyk die mense vir ons? Jubelend, singend, besig om ’n “oespsalm” te sing, of lyk hulle eerder soos klein godjies van hul eie koninkrykies? Wat roep die berge, see en riviere? Borrel hulle bulderend ’n loflied uit, of laat aardverwarming en rommel hulle stik en swyg? Getuig die oesland, weivelde en diere nog van die mag en heerlikheid van ons Here, of het die vergrype en magsbeheptheid ons blind en ondankbaar gemaak vir die vrygewigheid van die Een wat elke seisoen lewe en energie kom gee? Alleen ons Here is “omgewe” met mag! Onthou die geskiedenis en lees die “Openbaring” in die natuur. Sing weer ’n “oespsalm” – want God, ons Verlosser, Jesus Christus, Gees, kan ons wêreld binnedring met kragtige dade tot lof, wat groei.

Gebed

Here, onse Here, u trou en mag is steeds elke dag by ons. Ons bely dat ons energie dikwels taan, veral as ons na die vernietiging van ons planeet kyk. Laat ons weer ’n “oespsalm” tot u eer sing – ’n getuienis dat u energie en mag en heerlikheid ons hoop en troos vir die toekoms is, in Jesus Christus se Naam. Amen.

Gesang 464: 1-2

Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum

Share via
Copy link
Powered by Social Snap