Jakobus 1: 19-27

Die Woord van God is soos ’n spieël waarin ons ’n beeld van onsself te siene kry. Wanneer ons die Woord aanhoor of lees, raak ons bewus van wie ons is en wat ons moet verander om die beeld aan te neem waarin ander mense God sal raaksien en herken. Wanneer ons dit aanhoor, sien ons in die Woord as spieël watter knope nie reg vasgemaak is nie, of waar die tandepasta-spatsels sit. Die doel van omgang met die Woord is sodat ons daardie dinge kan regtrek vir dit wat ons weg van die spieël af doen. Die werk wat ons elke dag doen, ís immers weg van die spieël af.

Dit is tussen mense. In die versorging van weeskinders en weduwees en siekes en hongeres. Om heeldag elke dag Bybel te lees en nooit tot werke oor te gaan nie, is soos Narsissus wat op sy eie weerkaatsing verlief geraak het en langs die poel van honger dood is, omdat hy nie die beeld uit die oog wou verloor nie.

As ons egter van die spieël af weggaan om te werk en vergeet hoe ons hare gelyk het voordat die wind dit beetgekry het, is daar van meet af geen punt daaraan om dit netjies te maak nie. Ons kan nie die wind keer om ons hare deurmekaar te waai nie. Ons kan nie keer dat ander mense onbedagsaam of selfs venynig is nie. Ons gaan kwaad word en verontwaardig. Bang en teleurgesteld. Moeg en geïrriteerd. Die enigste manier om te verhoed dat ons lewens en optrede deur ons woede en uitputting en frustrasie gestuur word, is om in daardie oomblikke die beeld in die spieël te onthou, en my eie beeld so na moontlik aan daardie beeld te herstel. Die beeld van God en Christus.

Gaan my reaksie, my optrede, daardie beeld waarna ons deur geloof getransformeer het herstel, of gaan dit die beeld net verder verslordig? Gaan die boosheid en moeite waarmee ons gekonfronteer word uiteindelik die beeld wees wat ons self aanneem?

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link