Romeine 13: 1-7

God se bestuur van ons lewens word sigbaar in onder andere vier gesagstrukture, naamlik ons ouerhuise, ons onderwysers, die staat en die kerk. Nie een van hierdie strukture is volmaak nie, want dit word deur feilbare mense gevul.

Die begeerte om gesagstrukture omver te werp, bevat die kiem van revolusie. Die revolusionêr wil ontslae raak van die bestaande orde en ’n nuwe orde daarstel. Maar wie gee aan die revolusionêr die reg om dit te doen?

Die mens kan net met verkeerde dinge vorendag kom. Die reg wat geskaad is deur gebreke en tekortkominge by die bestaande orde, kan nie herstel word deur dit omver te werp nie. Die reg om ’n nuwe orde daar te stel, kom Christus toe, en Hy sal dit op sy tyd deurvoer.

Ten spyte van gebreke en tekortkominge by die owerhede, is hulle nogtans deur die beskikking van God daargestel Die revolusionêr het dus géén saak nie, al het hy hoeveel legitieme besware teen die staat. Die oomblik wanneer hy opstaan om die staat omver te werp, is die Skrif op hom van toepassing: Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge (Rom 2: 1).

Die goeie burger, die gelowige, is bewus van gebreke by die owerheid, maar hou homself nie voortdurend besig met kritiek daarteen nie. Die enigste manier is om na die Skrif te wys en so vir die waarheid te getuig. Die gelowige hou hom dus nie besig met die skokke en beroering van opstand en revolusie nie – hy is alleen maar bereid tot kalm refleksie, want finale oordeel kom God toe. God vra van ons geduld met die swakhede van mense binne al vier gesagstrukture. In plaas daarvan om kwaad van hulle te spreek, moet ons vir hulle voorbidding doen.

Psalm 72: 1-2

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link