Psalm 134

Die paasfees is verby. Dit is die aand voordat die pelgrims weer die lang tog huiswaarts aanpak. Hulle staan op die plein voor die tempel en sing die aandgesang, die inleiding tot die aandgebed: Kom, prys die Here, julle almal wat Hom dien, julle wat in die nag in die tempel van die Here staan! So roep hulle die priesters wat in die nag in die tempel diens doen op om die Here te prys.

Hulle wil graag die seën van die Here ontvang waar hulle op die punt is om die lang reis aan te pak en terug te keer na hul gewone lewens. In die tempel waar die priesters besig is om die Here met offers en gebede te dien, hoor hulle die aandgesang van die pelgrims. Die priesters antwoord daarop en spreek die seën van die Here oor die pelgrims uit: Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.

Om iemand te seën, was om iemand anders te groet met die bede om saam met hulle te wil gaan. Maar dis ook die hoop dat die ander een ook saam met jou sal wees. So beteken die seën van die Here dat Hy vir ons sê: Ek wil by jou wees en Ek hoop dat jy ook by My wil wees.

Wanneer ons kerk toe gaan, roep ons mekaar en almal wat die Here dien op om die Here te prys. Die predikante dra ons gebede aan die Here op, en in ons harte bid ons saam. Maar ons wil ook deur die Here geseën word. Daarom spreek die predikant die seën uit aan die einde van die erediens: Mag die Here wat hemel en aarde gemaak het, jou seën. Dit beteken: Die Here wil saam met ons na ons huise en gewone lewe gaan, maar Hy hoop dat ons ook altyd saam met Hom wil wees en lewe. Daarom seën Hy ons, en smag ons altyd weer na sy seën.

Ds Arie Kuyper, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link