Handelinge 9: 1-18
Om op te staan, is nie altyd so maklik nie. Wanneer die wekker vroegoggend lui, is dit soms nogal moeilik om op te staan, veral as ’n dag vol uitdagings op jou wag. Iemand wat geval het en beseer is, staan met moeite op. Wanneer jy oud geword het, is opstaan uit ’n stoel dikwels nie so vinnig nie.
Paulus was voorheen Saulus. Voordat Paulus op pad na Damaskus vir Christus ontmoet het, was hy die groot vervolger van die eerste Christene. Hy het met moeite en oorgawe die eerste gelowiges vervolg. Op die pad na Damaskus het sy lewe drasties verander. Hier word hy tot stilstand gedwing en sy lewe verander radikaal. Op die pad na Damaskus word hy deur ’n helder lig verblind en hy val op die grond neer. Die opdrag kom van die Here af dat hy moet opstaan van die grond af en na Reguitstraat in Damaskus moet gaan.
Die ontmoeting met die Opgestane Christus het sy lewe radikaal verander. Nie net moes hy fisies opstaan van die grond af nie, maar hierna sou hy opstaan vir die gelowiges en die evangelie van Christus wêreldwyd verkondig. Hy sou op verskeie sendingreise en dikwels met groot ontberings die oseane deurkruis, om die boodskap van die opstanding te verkondig. Dit sou hom later voor die keiser in Rome laat staan.
Soos wat Paulus opgestaan het vir die evangelie, so word ons ook geroep om op te staan vir dit wat reg is. Dikwels word ons verlam en verblind deur die uitdagings van die lewe. Dieselfde krag waarmee Christus die dood oorwin het, werk egter ook in ons, en daarom kan ons met die krag van Christus opstaan en gaan lewe.
Die oorwinning is behaal op Golgota. Die graf is leeg en die dood is oorwin. Ons kan dus opstaan uit die moedeloosheid en gaan lewe uit die hand van die Here. Staan op en lewe.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas