Lukas 24: 13-35

Jesus ontmoet Kleopas en sy vriend hier op die pad waar hulle, soos die ander volgelinge van Jesus, in skok en ontnugtering met mekaar gesels oor die dinge wat die afgelope paar dae in en rondom Jerusalem gebeur het. Dit is daardie traumatiese gebeure wat hul gedagtes en herinneringe oorheers. Hulle onthou dat Jesus gely en aan die kruis gesterf het, en dat Hy begrawe is. Die trauma van die lewe maak dat hulle vergeet wat Jesus vir hulle voor sy kruisiging gesê het oor die pad wat Hy moet stap. Dit maak dat hulle God se beloftes vergeet en weerhou hulle daarvan om Jesus in lewende lywe te herken, want die beeld van sy dooie liggaam is by hul geheue ingebrand. Jesus stap egter hul pad geduldig met hulle saam.

Wanneer hulle hul bestemming bereik, gee Jesus aan hulle die geleentheid om met liefde te handel, soos Hy mense voor die kruisiging geleer het. En dit doen hulle wanneer hulle gasvry by Hom aandring dat Hy daar oornag. Dít skep die ruimte waar hulle Jesus sal herken. Wanneer Jesus die brood breek, herken hulle Hom in daardie oomblik van oorgawe. Jesus se woorde bly vir hulle onverstaanbaar, totdat daardie woorde met ’n liefdeshandeling gevul word. Sy liggaam self bly onherkenbaar, totdat daardie liggaam in liefde optree.

Die seer en swaarkry van die lewe oorheers soms ons gedagtes, selfs al weet ons dat Christus leef. Dit kan so eenvoudig wees soos die irritasie van die soveelste bedelaar wat ons vandag lastig val, of so ingrypend soos die dood van ’n geliefde. Die verkeer wat stilstaan of die regeerders wat mense uitbuit. Ons onthou hoe moeilik en onregverdig die lewe is. Hoe sleg ander mense is. Want ons ervaar daardie dinge.

Om Jesus te onthou, moet ons Hom ook ervaar. Nie net sy liggaam of leringe nie. Sy wese. Die liefde. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis, die opstanding van Christus, word ervaar in die kleinste liefdeshandelinge. Leef liefde. Ervaar die lewende Christus, selfs onder verpletterende omstandighede.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link