1 Samuel 16: 1-13

Deur die hele Bybel sien ons dat God partymaal die heel onwaarskynlike persoon kies vir ’n baie spesiale taak – Jakob het met die Here gestoei, Moses het ’n spraakgebrek gehad, en Dawid het maar net sy pa se skape opgepas. Hoeveel dae voel ek nie ook so nie? Dit voel of ek nie eintlik hierdie taak moes gekry het nie – ek het nie nou die tyd nie. Hierdie is nie my talent nie. Daar is mos mense wat dié werk beter as ek kan doen…

Die taak wat die Here vandag vir my wil gee, is dalk heel eenvoudig en alledaags. Kom ons sien die saak so: Daardie persoon met wie ek nou praat, het dalk nog ’n slegter dag as ek. Vat dit regtig iets van my af weg om vriendelik, geduldig en behulpsaam te wees? Maak ek nie God se lankmoedigheid en genade op so ’n eenvoudige manier ook sigbaar nie? In ’n wêreld vol haat en rusie, roep die Here vir my om sy vrede en liefde te gaan uitdeel. In ’n donker en deurmekaar wêreld, roep die Here vir my om hoop en bemoediging vir mense te bring. In ’n ru en harde wêreld, kies God my vandag uit om met ’n sagte hand na my medemens uit te reik.

Dalk loop my dinge vandag nie soos wat ek dit wil hê nie, maar die Here het mý aangewys, ’n baie onwaarskynlike persoon, om ’n positiewe verskil te maak. En terwyl ek besig is met die Here se werk, kom ek agter dat ek oorvloedig geseën, versorg en vertroos word. Miskien was dit dan eintlik ék wat die Here se versorging en nabyheid nodig gehad het. Nou begin ek verstaan hoekom die Here juis vir my uitgekies het om hierdie eenvoudige taak te verrig – ék is die een wat sy hulp nodig het. Nou is ek nie meer die onwaarskynlike persoon nie, maar die regte persoon vir hierdie taak. En vandag gaan ek dit met vreugde doen!

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap