Eksodus 14: 19-22; Hebreërs 11: 27

Angs, woede, frustrasie, magteloosheid is normale menslike emosies. Daaruit reageer ons op die dinge van die lewe, op wat ons oorkom en dit vir ons moeilik maak. Die reaksie op bedreiging is veg of vlug. Die primitiewe brein neem oor en die kliertjie skei stowwe af. Dit maak ons oneffektief.

Wie nie hierdeur geregeer hoef te word nie, is mense wat lewe soos iemand wat die onsienlike God sien. Hebreërs 11 gee ’n lys van doodgewone mense wat so geleef het – seker van waarop hulle hoop en oortuig van die dinge wat hulle nie sien nie. Al kon hulle nie sien nie, het hulle geleef asof hulle sien. Een so ’n mens was Moses wat sonder angs vir die magtigste man van sy tyd, kon doen wat hy moes doen.

Want vir wie leef soos iemand wat die onsienlike God sien, is alles anders relatief. Dit is ’n kwessie van perspektief. Met so ’n perspektief verloor die magtiges hulle mag om te intimideer, om angs aan te jaag. Dan neem die kliertjie nie oor en word ’n mens nie geregeer deur angs, stres, woede of frustrasie nie. Soms voel ’n mens vasgevang. Dit is deel van die lewe. So was Moses vasgevang tussen die groot leër van agter en groot water wat die pad vorentoe blokkeer. Daar was geen uitkomkans wat enigiemand kon sien nie. Die normale menslike reaksie is paniek. Maar die tekens van God se nabyheid was daar om te sien. Die wolk wat hulle bedags rigting gegee het en beskerm het teen die son, steek hulle nou weg vir die vyand. Die waterblokkasie maak nou die pad na die toekoms oop en word beskermmure aan die sykante. Hulle kom anderkant uit. Ongeskonde.

Geloof is om te lewe soos iemand wat die onsienlike God sien. Geloof is perspektief behou. Met perspektief kom rustigheid. Dan kan ’n mens jou roeping volg sonder vrees, met die wolk agter jou rug, die beskermmure aan die kante en die pad na die toekoms oop.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

af
af
Deel met behulp van
Copy link