Filippense 2: 5-11

In die gelese gedeelte vind ons een van die oudste vroeë Christelike gesange wat deur die apostel Paulus by sy brief aan die gemeente in Filippi ingesluit is.

Jesus Christus geniet van alle ewigheid af Goddelike status by God die Vader. Hierdie Goddelike heerlikheid is egter nie deur Christus beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie. Sy liefde vir die mensdom en sy verlange om die gebroke verhouding met die mense te herstel, was eenvoudig so groot dat Hy die hemelse heerlikheid vrywillig agterlaat, en mens word.

Ons vier Kersfees en gedenk hoedat Christus as klein, hulpelose Baba in die wêreld gekom het en boonop geen ander onderdak kon vind as ’n vuil stal nie, en in ’n krip lê waaruit die diere vreet. Deur Christus se menswording word een saak onteenseglik duidelik: God wou mens word. Hy wou met ons in ons diepste wese en mensheid kom bemoeienis maak. Tog is Jesus so radikaal anders, want anders as mense, het Jesus geen beheptheid met mag nie. Inteendeel, Hy doen die hele tyd vrywillig daarvan afstand en neem die gestalte aan van ’n dienskneg, ’n slaaf. Daar is by Jesus geen ambisie te bespeur om die grootste, die rykste of die sterkste te wees nie. Jesus kies om selfs nederiger as die meeste van sy medemense te leef. Nie net gee Hy sy Goddelike heerlikheid prys nie, Hy word nie gelyk aan konings, heersers of maghebbers, mense met sosiale aansien nie. Nee, Jesus openbaar sy solidariteit met die sondaars en die uitgeworpenes.

God wou hierdie gebroke verhouding met die mense tot elke prys herstel, en dit het uiteindelik die kruis gekos. Wanneer Jesus Christus dan aan die kruis op Golgota sterf, het Hy elkeen van ons wat by sy genadeverbond ingesluit is, in gedagte. Só kosbaar is hierdie verhouding vir God.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link