Markus 6: 45-52

Hierdie is die laaste toneel waar ons stilstaan by Jesus by die See van Galilea. Hierdie keer vaar Hy nie met ’n bootjie kruis en dwars oor die see nie, Hy vlug ook nie oor die water om ’n bietjie weg te kom van die baie mense wat Hom volg en nodig het nie. Nee, ons vind Hom bo-op die watervlak!

Hy het die skare mense, wat Hom so lank gevolg het dat Hy vir hulle brood en vis moes voorsien, eindelik weggestuur gekry, en toe sy dissipels, sy naaste volgelinge, gedwing om met die boot weg te vaar, weer na die oorkant van die meer, na Betsaida toe. Hierdie keer is Hy nie dadelik saam met hulle in die skuit nie – Hy wou eers alleen wees om te bid.

Maar soos met die storm op die meer, het die dissipels weer ’n stryd om die boot op koers te hou. Die wind was teen hulle! En hulle stoei en veg teen die wind en die water tot in die vroeë oggendure, volgens Markus tot tussen drieuur en sesuur in die môre! Maar Jesus was nie onbewus van hul krisis en nood nie, Hy het gesien hoe hulle worstel, en toe op die see na hulle toe aangeloop om hulle te help en te troos.

Liewe gelowiges, dikwels het ons die wind van voor. Dikwels voel dit asof ons alleen stoei om ons lewensbootjie op koers te hou, Dikwels wil ons moed opgee, en word ons bang vir die spoke wat ons in ons eie gedagtes vertroetel: die spook van onvolmaaktheid, van minderwaardigheid, die gevoel dat ons nie goed genoeg is nie. Maar kyk maar net wyer, uit jou eie omstandighede, uit jou eie bootjie uit, en sien dit: Jesus sien jou stryd raak! Hou moed, en moenie langer bang en moedeloos wees nie, want Hy gee krag en rigting en moed, en Hy bring weer kalmte in die storms rondom ons.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link