Lukas 15: 11-32

Dinge werk nie altyd uit soos ons beplan nie. Die lewe is nou maar eenmaal so. Meermale gaan ek teleurstelling, hartseer en pyn beleef. Die vraag is: Wat doen ek met hierdie goed wat met my gebeur het? Wat doen ek met die pyn van teleurstelling en hartseer? Wat doen ek met hierdie stukkendheid? Wat maak ek met die bitterheid, met die woede?

Die normale reaksie is dat ek kwaad word. Woedend. Ek sit met hoë vlakke van aggressie. Ek verwag die heeltyd ’n wonderwerk, ’n redder, iemand wat sal kom om reg aan my te laat geskied – om die onreg wat aan my gedoen is, weg te neem. En op die ou end is ek, soos die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun, vasgevang in bitterheid: Ek het so hard gewerk en kyk wat gebeur met my. Die lewe is onregverdig. My drome en dit waarna ek uitgesien het, het nooit waar geword nie. Ek verdien nie wat met my gebeur nie. Ek word vasgevang. Ek kan nie aanbeweeg nie.

Die uitdaging is om jou situasie te aanvaar. Daar is eenvoudig goed in die lewe wat buite jou beheer is, en waaraan jy niks kon doen nie. Aanvaarding daarvan is die eerste stap tot heelwording. Hoe moeilik dit ook al mag wees, aanvaar die pyn. Slegs so kan nuwe lewe gebore word.

Sören Kierkegaard het verwyt so gedefinieer: Verwyt vind plaas wanneer ons van barmhartigheid na bitterheid beweeg. Deur barmhartig te wees, verdryf ek verwyte. Ek kan nie bitter wees as ek barmhartig is nie. Barmhartig is om uit te reik na ander, om te weier om kwaad met kwaad te vergeld, om geleidelik die bitterheid en verwyt te laat gaan en te vergewe. Soos ek op hierdie reis voortgaan, beweeg ek in ’n lewe van blydskap in! Ek deel nou in God se lewe!

Aan wie kan jy vandag barmhartigheid betoon? Hoe kan jy die barmhartigheid deel wat jy van God ontvang? God het die onaanvaarbare in jou vergewe. Behoort jy dit nie te deel nie?

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap