Johannes 1: 1-5, 9-14: 

Dink ’n oomblik na oor groot wêreldgebeurtenisse wat jy in jou eie leeftyd beleef het. Wat was jou reaksie daarop? Gebeurtenisse soos die vliegtuie wat in die Wêreldhandelsentrum in New York vasgevlieg het, of natuurrampe soos aardbewings, brande en oorstromings, en ook die Covid-19-pandemie, vul ons gewoonlik met ’n magdom reaksies en emosies. Hierdie reaksies word aangeblaas deur die media, en die mensdom jaag die sensasies na.

Wat sou ons reaksie wees indien ons vandag vir die eerste keer die berig lees of hoor aangaande die aankondiging van Jesus Christus se koms? Sou ons dit glo en sou ons daardeur aangegryp word, of sou ons dit moontlik afmaak as net nog ’n berig en ons nie verder daaraan steur nie?

Die apostel Johannes skryf hierdie Evangelie as ’n bejaarde man en deel met sy lesers sy eie ervaring oor wat Jesus vir hom beteken het. Hy sê in Johannes 20: 31 wat die doelwit van sy skrywe is: Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. Hy wil hê dat ons moet sien wie Christus werklik is. Dat dit geloof by ons sal skep wanneer ons dít sien wat Christus alleen kan gee, naamlik LEWE.

In die aanhef van sy Evangelie verkondig Johannes dat die Woord mens geword het en dat hierdie Woord self God is. Hy maak bekend dat daar lewe in Hom was, en dié lewe was die lig vir die mense, en die duisternis kan dit nie uitdoof nie. Watter wonderbaarlike nuus! In Johannes 1: 12-14 lees ons dat sy eie mense Hom nie wou aanneem nie, maar dat dié wat glo, die reg het om kinders van God te word. Aan God al die eer vir hierdie wonderbaarlike troos en sekerheid. Glo dit!

Belydenis

Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mens in wie Hy ’n welbehae het.

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link