1 Samuel 17: 26

Ons het gister gekyk na Dawid wat met geloofsmoed opgetree het. Vandag kyk ons vanuit dieselfde teks na ’n ander aspek van die hantering van vrees.

Daar is ’n advertensie met die slagspreuk: Just do it! Soms moet ’n mens iets net doen sonder dat jou vrese jou terughou. Goliat het die Israelitiese mans wat voor hom gestaan het, getart. Hy het God en sy volk beledig. Tog was hierdie mans almal te bang om teen hom te veg. Dawid het dadelik tot aksie oorgegaan sonder om terug te deins toe die reus sy mense uitdaag. Hy was ontsteld oor die vernedering van God se volk. Goliat kon nie so voortgaan nie. Miskien was Dawid heimlik ook skrikkerig vir die reus. Sy motivering om op te staan vir God en sy volk was egter sterker as sy vrees.

Soms staan ons voor uitdagings waaroor ons sterk voel en wat so belangrik is dat niks ons kan keer nie. Al is jy bang, besef jy dat jy moet optree.

Toe Petrus voor duisende mense ’n toespraak gegee het ná die uitstorting van die Heilige Gees, het sy broekspype dalk gebewe. Terloops, om voor mense te praat, is een van die grootste menslike vrese. Tog moes hy net praat. Hy kon nie stilbly oor sy Verlosser nie. Niemand kon hom keer om oor die opgestane Christus te praat nie.

Dieselfde is sekerlik waar van Martin Luther wat teenoor die leiers van die Rooms-Katolieke Kerk opgestaan het. Hy was sekerlik bang. Dis menslik. Tog het hy opgestaan en gepraat, omdat hy besef het dat die Here hom daartoe roep.

Jy het ’n roeping in die wêreld. Gaan jou vrese jou daarvan weerhou om te praat en op te tree wanneer jy moet? Wanneer ons God vertrou, kry ons krag, wysheid en woorde as ons tot aksie oorgaan. As jy bang word voor groot verantwoordelikhede, moet jy dit net doen en ervaar dat God jou daarvoor toerus.

Ds Louw van der Linde, Evander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap