Psalm 140

Jare gelede moes ’n bekende teoloog vir die soveelste keer in sy lewe dié vraag hoor: Hoe kan jy in God se bestaan glo? Sy antwoord was dat dit baie makliker was om in God te glo, as om te glo dat die lastige vraagsteller werklik bestaan. Hy het die vraagsteller se gesig net een keer gesien, maar met die Here het hy al deur die loop van dekades duisende kere gesprek gevoer. Hy het uiteraard na gebed verwys. Wanneer ons bid, sê ons in wese dat ons ’n brandende begeerte het om kontak te hê met die lewende God. Dit is eintlik maar net ’n behoefte om gehoor te word.

Die digter van Psalm 140 gesels met die Here asof Hy ’n ou vriend is, wat na al sy klagtes luister. Hy vra hulp teen die goddelose vyande. Hy pleit dat die Here reg sal laat geskied. Hier is ’n magtelose mens wat na die Almagtige gaan, sy lot bekla en van harte hoop dat God sal hoor en verhoor.

Die afgelope jaar of twee het ek die voorreg gehad om met kontemplatiewe of stilraak-teologie te doen te kry. Dit gaan gewoon daaroor dat ’n mens jou afsonder, en kontak maak met die Here. Jy gesels met Hom en deel jou menswees met Hom, en jy maak jouself oop en ontvanklik om te hoor wat Hy vir jou wil sê. Ek het al dikwels die indruk gekry dat ons van gebed ’n taak of ’n opdrag maak, in plaas van ’n spontane stilraak voor God. ’n Stukkie gemeenskap wat met opregte vertroue gepaard gaan.

Die wonderlike is dat God met ons wíl kontak maak. Hy wil hê ons moet met Hom in gesprek tree, om op hierdie wyse iets van sy teenwoordigheid te kan ervaar. Mag ons nooit die geleentheid laat verbygaan nie.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link