Genesis 21: 8-21

Die geboorte van Isak, volgens Genesis 21, bring die drama tussen Abraham, Sara en Hagar tot breekpunt. Die beloofde seun van die verbondsvolk is nou ’n werklikheid. Die belofte van ’n nageslag is vervul, en dit laat Hagar en haar kind in ’n krisis, omdat Sara nou haar volwaardige rol as vrou by Abraham ingeneem het. God se verbondsbeloftes sal deur Sara ’n werklikheid word. Daar is dus nou geen nut meer vir Hagar en Ismael nie.

Ten spyte van die afstand tussen Sara en Isak aan die een kant, en Hagar en Ismael aan die ander kant, belowe God dat daar ook na Ismael omgesien sal word. Later, in die woestyn, sien ons hoe hierdie belofte van versorging nagekom word.

God het Ismael se nageslag ook ’n groot nasie laat word. Dit het met hom en Hagar goed gegaan. Die verhaal van Hagar en Ismael word hier afgesluit en ons lees net een maal weer van Ismael, by Abraham se afsterwe in Genesis 25. Tog kry die verhaal van Hagar en Ismael in Genesis amper ewe veel aandag as die Isak-verhaal, juis omdat dit handel oor die integriteit van God se beloftes.

Dit is baie duidelik dat God in alle opsigte getrou gebly het aan sy beloftes. Hierin lê troos vir die verbondsvolk, ’n herbevestiging dat God getrou sal wees aan sy verbond met hulle. Want as God lojaal kan wees aan die ander, hoeveel te meer dan nie ook aan sy eie volk nie?

In die woestyn het Hagar alle hoop op ’n gelukkige einde verloor, maar God het ingetree. God het in haar diepste oomblik van nood en hartseer ingegryp en haar en haar kind deur daardie woestyn gelei. Soos wat Hy die belofte aan Ismael nagekom het, kan ons verseker wees dat God aan ons ook sy belofte van ewige trou sal nakom. In die woestynoomblikke van die lewe, is God daar met ons. God hoor die noodkrete van sy kinders. Deur Christus het God vir ons kom wys waar die oase is. Ons is nooit alleen nie.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link