1 Johannes 3: 1-10

Johannes skryf aan ’n gemeente waaruit ’n groep lidmate weggebreek het omdat hulle geglo het dat hulle nie sonde kan doen nie omdat hulle kinders van God is. Hulle het gedink dat hulle net hoef te glo en dat hulle nie nodig het om hul geloof uit te leef nie. Die boodskap van die evangelie was dalk in hul koppe, maar hulle het dit nooit ter harte geneem nie.

Johannes beklemtoon daarom aan die gemeente dat hulle moet lééf wat hulle glo! Ons is geskape om in ’n aktiewe en nabye verhouding met God en ons naastes te leef. Ons is gemaak om lief te hê, soos Christus. Die sonde het mense gevange gehou om nie in liefde met mekaar saam te leef nie. Daarom het Christus aan die kruis gesterwe en opgestaan uit die dood om die mag wat sonde oor mense gehad het, te verbreek. So is aan ons die keuse gegee om in verhouding met God te leef of nie. Die suigkrag van sonde bestaan nog, maar die gevolge daarvan is vernietig vir dié wat werklik glo en dit lééf.

Elkeen wat met Christus in ’n verhouding leef, besef en beleef elke dag die bewegende effek van die redding uit die sonde. Daarom hou so ’n persoon op om te sondig, want sonde se heerskappy is gebreek. As ons aanhou sondig, bring dit spanning in ons verhouding met Christus. Ons moet oefen om soos Christus lief te hê, en om regverdig, genadig en vergewensgesind te wees. Ons gaan foute maak en ons koppe stamp, maar hoe meer ons oefen om in Christus se voetspore te volg en ons verhouding met Hom te verdiep, hoe makliker gaan dit word. As ons nie oefen in ons verhouding met God nie, gaan ons verhouding met God nooit groei nie en gaan ons nooit die volle potensiaal bereik wat God vir ons bestem het nie.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap