1 Korintiërs 12: 1-11

Paulus begin hierdie hoofstuk wat handel oor die gawes wat die Gees gee, met die opmerking wat ons op meer as een plek in die Woord lees: Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die werking van die Gees. Dit is hierdie Gees wat verskillende gawes aan elkeen afsonderlik gee.

Wanneer Jesus in Matteus 16: 15 vir sy dissipels vra wie hulle sê Hy is, doen Petrus die belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Dan sê Jesus dat hierdie belydenis nie deur ’n mens aan hom geopenbaar is nie, maar deur sy Vader wat in die hemel is.

Deur die werking van die Gees het jy seker ook hierdie belydenis gemaak. Saam met hierdie kragtige belydenis, kom ook die verantwoordelikheid om verder te getuig. Die Gees wat verskeie gawes uitdeel soos wat Hy wil, gee ook aan ons die krag om te getuig.

Net voor Jesus se hemelvaart sê Hy aan sy dissipels dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle sal kom en dat hulle sy getuies sal wees tot in die uithoeke van die wêreld. Dan lees ons in Handelinge 5 dat die apostels, nadat hulle deur ’n engel uit die tronk bevry is, voor die raad en leiers van die volk met krag getuig dat Jesus opgestaan het uit die dood. In vers 32 antwoord hulle dat hulle getuies hiervan is, hulle en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is. Deur hul getuienis het die Woord verder versprei en die getal gelowiges het geweldig toegeneem.

Reg deur die Woord lees ons dat mense belydenisse doen en getuienisse lewer deur die werking van God se Gees. Dawid sê in 2 Samuel 23: 2 (AFR2020): Die Gees van die Here spreek deur my, sy woord is op my tong. Die Gees versterk ons om te bely en te getuig. Bestudeer God se Woord sodat jy sy stem sal kan onderskei en sal getuig met krag.

Ds Manda le Roux, Weskus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap