Handelinge 1: 8

Somtyds beland ons op plekke en in situasies waar ons nie wil wees nie en wat ons heeltemal ongemaklik maak. By die werk is daar mense wat ons ontstel en kwaad maak. By die skool moet ons soms deelneem aan aktiwiteite waarmee ons glad nie goed is nie. Ons word gekonfronteer met baie dinge waarvan ons nie hou nie. Ons reaksie daarop is ook nie altyd positief nie. By die werk of rondom mense wat ons ontstel, praat ons nie altyd mooi nie. By die skool doen ons wat ons kan om uit die aktiwiteit te draai, al is dit deur ’n klein leuentjie te vertel. Wanneer ons met hierdie situasies gekonfronteer word, tree ons nie noodwendig positief op nie.

Maar wanneer ons Handerling 1: 8 lees, kry ons ’n opdrag en ’n vertroosting. Ons kry die opdrag om te verkondig. Nie net op die plekke waar ons gemaklik is of waarvan ons hou nie, maar ook op die plekke waar ons ongemaklik is en op die plekke en in situasies waarmee ons onbekend is.

Samaria en tussen Samaritane was nie noodwendig die gelowiges se gunstelingplek om te wees nie, en hulle wou nie graag met daardie mense in kontak kom nie. Tog word hulle ook daarheen gestuur om die woord van God te verkondig. Dit herinner ons dat ons soms op plekke en in situasies gaan wees wat vir ons moeilik en ongemaklik is, maar steeds moet ons deur ons optrede en woorde juis op daardie plekke die woord verkondig.

Die troos wat ons kry, is dat ons ook daar nie alleen is nie. Die Gees van God is by ons en gee vir ons die krag in alle vorme om daar ook die woord te verkondig. Dit help ons om kalm te wees in die situasies wat ons ontstel. Dit help ons om die moed te hê om nuwe dinge te probeer. Die Gees van God is by ons – ook daar waar ons nie wil wees nie.

Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap