Psalm 8: 1-9

Vandag vier die kerk die voorreg dat ons God mag ken soos Hy Hom aan ons geopenbaar het, as Vader, Seun en Heilige Gees – as die Drie-enige God. Ons raak opnuut bewus van God se teenwoordigheid en sy hier-wees in ons lewens. Wanneer ons nadink oor hierdie alomteenwoordige en almagtige God, dan wil ons sommer inval saam met die digter van Psalm 8 om God se lof te besing: As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Ps 8: 4-5).

Ons as mense verstaan hoe storms gevorm en geskep word. Ons kaart sonnestelsels en plant harte vir mense oor. Ons meet die dieptes van die oseane en stuur seine na verafgeleë planete. Ons het ons heelal al deeglik bestudeer en leer elke dag nog hoe dit inmekaar skakel en werk. Vir baie mense het al hierdie kennis ’n verlies aan verwondering oor die misterie gebring, en dit het gelei tot ’n verlies aan die majesteit van die Here. Hoe meer die mens weet, hoe minder glo die mens.

Nogal snaaks, dink jy nie ook so nie? Die kennis van hoe dinge werk, behoort nie die wonder daarvan uit te kanselleer nie. Kennis behoort eintlik die verwondering verder aan te wakker en te motiveer. Wie het meer rede om te aanbid en te loof as die sterrekundige wat die sterre gesien het deur ’n kragtige teleskoop? Eerder as om die Skepper te aanbid, aanbid die mens die skepping. Paulus spel dit uit in Romeine 1: 25: Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Die mens dink hy het dit alles uitgepluis.

Mag die mens in sy arrogansie altyd onthou wie hierdie alomteenwoordige en almagtige God is wat as Vader, Seun en Gees voortdurend skep, verlos en vertroos. Miskien moet die mens agter al sy studies oor die wêreld eerder kyk na die God wat dit moontlik maak en dit in stand hou soos net Hy kan.

Ds Jimmy Manders, Witfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link