Hebreërs 13: 1-6, 22-25; Johannes 3: 16

Ons is almal familie van mekaar. Met God as ons Vader, is ons broers en susters van mekaar. Dit maak dat ons op ’n sekere manier teenoor mekaar behoort te leef. Die Hebreërbrief roep ons op om vir mekaar lief te wees deur ook gasvry teenoor mekaar op te tree. Soos familie, raak geloofsfamilie ook gewoond aan mekaar, met die gevolg dat ons soms vergeet hoe spesiaal dit is om God se familie te wees. Daarom het ons mekaar nie altyd vurig en van harte lief nie, het ons nie ons broer en suster altyd so lief soos onsself nie.

Die Hebreërbrief is gerig aan mense wat onderweg uitgesak het. Hulle het begin verskonings soek vir hul gebrek aan liefde en gasvryheid. Vir hulle was dit makliker om van God se liefde vir hulle te hoor, as om self lief te hê. Dit is sekerlik hoekom Jesus op ’n ander keer gesê het dit is beter om te gee as om te ontvang. Jesus se liefde was nie net lippetaal nie. Hy het dit deur sy lyding tot aan die kruis volgehou. Dit laat ons dink aan Johannes 3: 16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Die skrywer van die Hebreërbrief gee praktiese riglyne vir die liefde en gasvryheid: Dink aan die gevangenes, dink aan dié wat mishandel word, wees in jul huwelike getrou aan mekaar, hou jul lewe vry van geldgierigheid, en wees tevrede met wat julle het. Omdat God ons eerste liefgehad het, moet ons mekaar altyd liefhê. Omdat God ons eerste liefgehad het, moet ons nie nalaat nie om gasvry teenoor mekaar te wees. Die woorde, inhoud en betekenis van Gesang 526 maal nou deur ons gedagtes: Waar daar liefde is, en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link