2 Korintiërs 3: 18
Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land? Ons ken die sprokie, maar die lewe is nie eintlik ’n sprokie nie. Daar is dinge wat ons sien, maar nie kan insien en verstaan nie. Vandag kyk ons na die simboliek van spieëls in die Bybel.
Mense moes maar meestal waterweerkaatsings gebruik om hulself te sien in die Bybelse tyd. Spieëls was skaars en is gemaak van brons, koper of silwer wat blink gevryf is.
Drie keer in die Nuwe Testament word spieëls simbolies gebruik. Eerstens is daar Paulus wat die aardse en hemelse kennis en begrip so kontrasteer: Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is (1 Kor 13: 12). So dof as wat die spieëls se beeld daardie tyd was, wat maar net ’n gedeeltelike weerkaatsing was, so min verstaan ons hoekom sekere dinge in ons gebroke wêreld gebeur; maar eendag sal ons saam met God die stukkies van die legkaart inpas om die volle prentjie te sien.
Tweedens lees ons in Jakobus 1: 23-24 dat iemand wat die Bybelse woord net aanhoor, maar nie doen wat dit sê nie, soos ’n persoon is wat sy gesig in die spieël sien en dadelik vergeet hoe hy gelyk het. Hy sê die Bybel moet ons gedrag en lewenshouding verander, anders beteken dit dat ons lees sonder om op te let wat dit vir ons wil sê.
Derdens sê Paulus in 2 Korintiërs 3: 18 dat ons almal die heerlikheid van die Here weerspieël, omdat ons al meer verander om aan Christus se beeld gelyk te word. Hulle wat na ons kyk, moet in ons manier van praat en doen Jesus Christus se beeld in ons sien. Dis soos die maan wat iets van die son se lig weerkaats. Mag God se woord en die Here se genade jou lewe so aanraak en die Heilige Gees jou so vervul dat jy Jesus Christus se beeld in jou alledaagse optrede weerspieël.
Ds Louw van der Linde, Evander