Openbaring 7: 9-17
Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam (vers 14). Die swart vlekke van hul sondes is met die rooi bloed van die Lam van God, Jesus, wat daar op Golgota vir hulle aan ’n kruis gesterf het, spierwitskoon gewas. Hulle is dus die mense wat besef dat die Here Jesus aan die kruis vir hulle gesterf het, dat Hy die straf vir hul sonde namens hulle gedra het. En dat hulle met God versoen is en nie ná hul dood die ewige straf hoef in te gaan nie, maar die hemelse vreugde daar by God kan beleef.
Verstaan jy dit? Swart sonde word deur die rooi bloed van Jesus skoon gewas, sodat hulle nou wit klere kan dra? Besef jy wat vir jou voorlê? Dat jy ook deel van die menigte kan wees en saam kan juig en getuig en palmtakke waai? Hierdie mense waarvan jy gelees het, se lewe is nou ’n nimmereindigende oorwinningsfees! In die laaste twee verse word iets beskryf van die vreugde en die saligheid wat hulle geniet. Hierdie mense het álles. God gee hulle álles. Is dit nie iets wat jy ook graag wil beleef nie? Wonder jy ook gereeld: Gaan ek ook eendag daar wees?
Daar is baie dinge waarop daar in hierdie gedeelte gefokus kan word, maar vandag kyk ons na die rede waarom hierdie menigte mense fees kon vier. Waarom hulle kon juig en getuig – hulle was wit gewas deur Jesus se bloed. Daarom kon hulle God se Naam besing: Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen! (vers 12).
Dink weer aan die menigte mense. Waar staan jy in hierdie stadium? Is jy ’n toeskouer en kyk jy van buite na almal om jou, en leef jy na binne gerig? Of dra jy jou wit klere met trots en juig en getuig jy saam met almal om jou oor die genade wat God ook aan jou bewys?
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
