Johannes 4: 7-26

Die manier waarop Jesus die vrou antwoord, is vir my ’n hoogtepunt hier, in ’n Evangelie gevul met Ek is-uitsprake: Ek is die brood, Ek is die Lig, Ek is die Herder, Ek is die Weg, Ek is Waarheid… en so gaan dit aan. Die eerste Ek is-uitspraak word nie aan Nikodemus of aan die dissipels gegee nie. Nee, dit word gegee aan ’n vrou wat skaam-skaam haar gebrokenheid en tekortkominge wegsteek. Luister na vers 26: Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Dit is juis ’n bewys dat Jesus genade gee ongeag jou taal, jou nasionaliteit, jou verlede of jou hede. Die aanbod van lewende water word gegee aan hierdie vrou wat al vyf mans gehad het, en die een wat sy toe gehad het, was nie regtig haar man nie! ’n Vrou wat eintlik siek is van die binnekant af na buite toe, ontvang die genade van God.

Baie kere het ons ’n prentjie in ons kop van hoe Christenskap lyk. Altyd ’n mooi prentjie. So skoon en netjies. Die mense in die Bybel het nie sulke verhale nie. Hulle neem lank om geloofsvolwassenheid te bereik. Maar een ding is waar – in al hierdie verhale is God in die middel van die gebrokenheid en die vuilheid en die skaamte van die mens. Hy is juis besig met die wonde van mense. In Johannes word ons deur die optrede van Jesus geleer om nuut te dink in ons geloof. Die Evangelie volgens Johannes vertel ons van ’n Verlosser wat ’n stroom lewende water na vore bring. Wat ons wonde genees. Dit is in hierdie ruimte dat ons eerlik kan wees oor ons tekortkominge wat ons so sterk beskerm. Wat ons so maklik wegsteek. Wat mense nie mag uitvind nie. Ook nie God nie.

Maar wanneer ons wel eerlik is daaroor, ontmoet die genade van Christus ons op ’n plek van aanbidding. Nie op ’n berg nie, nie in die tempel in Jerusalem nie – maar by Hom waar jy hoor: Dit is Ek, Ek wat met jou praat.

Dr Hein Delport, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link