Handelinge 27: 1-26
Vriend van God:
Op pad, nee op see, om voor die keiser te gaan staan. Op ’n bootjie, vir 14 dae waartydens die son en sterre nie gesien is nie, daar is net die gedruis van storm, wind en golwe wat dreig om die bootjie met vrag en passasiers te verdelg!
Moeg en uitgeput, na liggaam en gees, tot in murg en been. Uitgehonger. Smagtend na redding. Wie is daar wat dan nie die een of ander tyd handdoek sal ingooi en soos ’n Elia van ouds onder die bos sal wil gaan lê en uitroep dat dit nou genoeg is nie! Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word (vers 20). Het hulle van God vergeet? Maar dan, daar in die storm na noodmaatreëls getref is, vrag en dryfanker oorboord gegooi is, klink die uitroep van die evangeliedraer: Hou moed! (vers 22).
Vriend van God, ons kan ons maklik vereenselwig met daardie stormgeteisterdes. Tentbewoners, pelgrims op reis om ook voor die Keiser van alle keisers te gaan staan. So dikwels uitgemergel deur gebeure en ervarings, pyn, alleenheid, teleurstellings, kommer, storms in ons eie lewe, dat ons ook wil uitroep: Nou kan daar geen uitkoms wees nie. Dit is net nag. Nou gooi ons handdoek in. Dit is mos juis dan dat ek en jy, die ligdraers, die verteenwoordigers van die Skepper, moet uitroep: Hou moed!
Vriend van God, ons leef mos nie sonder hoop en verwagting nie! Ons hoef nie bang te wees nie. Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Nie hoogte of diepte nie. Niks! God, die Vader van ons Here Jesus Christus, wil vir my en jou vandag ook sê: Hou moed! Moenie die hoop laat vaar nie. Hou aan! Stry die goeie stryd. Volhard. Ek het vir julle die verwagting, nie van vernietiging nie, maar die afwagting van die ewige lewe gegee.
Sing maar gerus Gesang 573: 1 – Ruwe storme breek in woede…
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)