Jakobus 3: 1-12

Psalm 34: 13-14 sluit by Jakobus 3 aan: As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Psalm 35: 28 beskryf hierteenoor hoe ons die tong op die regte wyse kan gebruik: My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof.

Hoe gebruik ek my tong? Die skade wat ons met die tong aanrig, is enorm. Dalk moet ons die groot Griekse filosoof Sokrates se toets gebruik voordat ons iets van iemand sê. ’n Kennis van Sokrates kom eendag by hom aan met die woorde: “Weet u wat ek so pas gehoor het van ’n goeie vriend van u?” “Hokaai,” antwoord Sokrates, “voordat jy vir my enigiets verder vertel, kan dit wat jy my gaan vertel die driedubbele filtertoets slaag?”

“Wat is die driedubbele filtertoets?” vra die man. “Die eerste filter is waarheid. Het jy seker gemaak dat dit wat jy my wil vertel die reine waarheid is?” “Wel, nie heeltemal nie, ek het dit ook maar so pas gehoor…” “Goed,” antwoord Sokrates, “jy weet nie of dit waar is of nie. Wat van die tweede filter, die filter van heilsaamheid. Is dit wat jy my wil vertel ’n goeie ding?” “Nee, inteendeel…”

“So,” antwoord Sokrates, “jy wil vir my iets vertel wat nie goed is nie, en jy is nie seker of dit die waarheid is nie. Kom ons probeer die derde filter, die filter van bruikbaarheid. Is dit wat jy my wil vertel van my vriend enigsins bruikbaar vir my?” “Nee, nie regtig nie…” “Wel, as dit wat jy vir my wil vertel nie waar is nie, nie goed is nie en ook nie bruikbaar is nie, waarom wil jy my hoegenaamd vertel?”

Kom ons filtreer meer gereeld ons woorde. Is dit waar? Is dit goed? Is dit bruikbaar? As die antwoord op enige van hierdie vrae “nee” is, laat die woorde liewers in die filter agter.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Copy link