Markus 2: 13-17

Ons het ongelukkig baie ervaring van mense wat hul sleutelposisies misbruik om hulself in te stop terwyl die gewone publiek daarvoor moet betaal. As jy jou bestuurslisensie wil slaag, moet jy R1 000 saambring. Jy mag nie hierdie goedere oor die grens neem nie. Ek kan verseker dat jou maatskappy die kontrak wen, maar…

Ons magteloosheid laat ons sulke mense haat. Ons kan sien hoe lekker hulle leef terwyl ons bloed sweet. Ons wil nie met sulke mense meng nie en sal stik as ons saam met hulle moet eet of kuier. En dié wat wel met hulle sosiaal verkeer, beland summier in ons swart boekies.

Dis hoe gewone Jode oor tollenaars gevoel het. Tollenaars het hul posisie as agent by die tolhekke op hoofpaaie by die plaaslike heersers soos Herodes Antipas gekoop teen ’n sekere bedrag per jaar. Alles wat hulle bo en behalwe hierdie bedrag gehef het, kon hulle vir hulself hou. Daar was nie vaste tariewe nie, en die tollenaars het dikwels die verbygangers gruwelik uitgebuit. Godsdienstige Jode soos die Fariseërs het tollenaars as skelms en sondaars beskou, en hulle uit die godsdienstige gemeenskap uitgesluit.

Hoekom op dees aarde sou Jesus dan reg aan die begin van sy loopbaan as prediker en geneser een van hierdie tollenaars roep om Hom te volg? Wat besiel Hom om saam met ’n hele spul tollenaars en ander ongure karakters te gaan eet? Want, sê Jesus, Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars. Niemand word van God se heil uitgesluit nie. Dit is konsekwent die boodskap wat Jesus met sy woorde en dade oordra. 

Hoe dikwels kyk ons mense by ’n troue of groot verjaardag of feesgeleentheid skeef aan? Hoe laat ons vreemde mense voel wat op ’n goeie Sondag in ons kerk instap – mense wat dalk nie soos ons lyk of aangetrek is nie, mense wat ons dalk met ’n ongewenste lewenstyl assosieer? As óns in Jesus se voetspore wil volg, moet ons selfs dié wat afgedwaal het, in ons gemeentes innooi.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Copy link