Amos 4: 12-13
In die volksmond praat ons van die “Skoonste Kaap”. Die beroemde gesig, wat talle seevaders al gesien het, was Tafelberg. Op ’n mooi dag kan die berg reeds 200 kilometer van die kus af gesien word. Navorsing toon dat die boonste 600 meter van die berg bestaan uit horisontale sandsteenlae, wat tussen 400 en 500 miljoen jaar gelede op die bodem van ’n vlak see neergelê is, op ’n fondament van leiklip en graniet.
In Amos 4: 13 lees ons: Jy moet besef: Hy wat die berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, sy Naam is Here, almagtige God! Amos was ’n skaapboer uit Tekoa. Sy prediking was ten nouste vervleg met die wêreld van ’n boer. Keer op keer moes hy oordeel aankondig. Die bedoeling was egter dat sy hoorders, deur die treffende beelde in die oordeelsaankondiging, hulle sou bekeer. In eenvoud word ons gekonfronteer: Wie is God en besef ons waartoe ons Here in staat is?
Hierdie almagtige God openbaar Hom in die natuur, maar kan ook die natuurwette omkeer. Die Here kan die dagbreek donker maak! Die oordeel word gerig aan die Israeliete, wat al hoe meer gemaklik en uitspattig begin lewe het. Die arm mense se situasie het al hoe meer versleg, sodat hulle selfs as slawe verkoop is. Amos skryf dat egte godsdiens naasteliefde insluit. Israel word opgeroep om te besef wie God is en watter invloed hierdie besef op al ons verhoudings het. Jy moet besef… Besef ons? Ons Here, wat die berge vorm, roep ook ons vandag tot bekering, liefde tot God en liefde tot ons naaste.
Gebed
Here, almagtige God, U vorm berge en skep winde, U bring ons tot die besef – u Naam is Here! Begelei ons tot bekering, en ’n herstelde verhouding met ons Heiland en ons naaste. Amen.
Gesang 509: 1 en 3
Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum
