Filippense 2: 12-18
Jesus Christus se kruisdood en opstanding is van die belangrikste gebeure in ons geloof. Nie net word ons sondes vergewe nie, maar ons tree in ’n nuwe verhouding met God deurdat sy genade ons sonde skoonwas. Jesus se aardse bestaan, wat oploop tot hierdie gebeure, wys vir ons die gesindheid wat Christus beoefen het om God se wil uit te leef. Sy leefwyse dien vir ons as ’n voorbeeld van hoe ons as gelowiges moet leef om God se wil na te streef.
Paulus doen alles in sy vermoë om Christus se voorbeeld na te streef. Hy leef vir die evangelie, hy plaas ander bo homself en streef daarna om Christus se liefde en genade aan ander bekend te maak. Hy poog altyd om ander te bemoedig in hul geloof en hy moedig hulle aan om vir Christus te leef. Paulus wy sy lewe ten volle aan Christus toe, maar kan dit slegs deur God se krag doen.
Die gemeente in Filippi voel ontmoedig omdat Paulus nie by hulle is nie. Paulus doen sulke goeie werk dat die gemeente ook goeie dade wil uitvoer, maar sonder Paulus voel hulle ontmoedig. Paulus bemoedig hulle deur aan te dui dat hulle altyd gehoorsaam is aan hom, en nou moet hulle ten volle gehoorsaam wees aan Christus. Hulle moet leef soos verlostes en die evangelie aan ander bekendmaak. God sal hulle bystaan in hierdie taak omdat Hy sy koninkryk wil laat groei. Mense wat God se werk verrig, word nooit verlaat nie – Paulus beklemtoon hierdie gedagte.
Só moet ons ook soos Paulus en die gemeente in Filippi leef vir Christus. Ons lewe moet verander en ons moet leef soos verlostes. Ons moet die evangelie na die wêreld neem en ander van Christus se wonderlike dade vertel. Ons hoef nie bekommerd te wees oor hierdie opdrag nie, want God vergesel ons met elke tree. Hy bied vir ons die krag om sy wil uit te leef. God se genade is altyd met ons, en daarom kan ons nie anders nie as om as verloste gelowiges te leef.
Ds Hanri Reichel, Van Warmelo