Matteus 16: 13-20

Ons bely dat ons glo in die eniggebore Seun van God. Die geloofsbelydenisse van Nicea en die Apostolicum stel dit so. Wat beteken dit om in Christus te glo? Is dit dieselfde as om in God te glo?

In die Hebreeuse taal word die frase seun van gebruik om ooreenstemmende identiteit aan te dui. Die Ou Vertaling van Psalm 72: 1 lui: O God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning. Koning en seun van die koning is een en dieselfde persoon. ’n Tipiese voorbeeld in die Nuwe Testament vind ons in Matteus 13: 55: Is hy dan nie die timmerman se seun nie? In Markus 6: 3 staan daar: Is hy dan nie ’n timmerman nie? Albei sê dieselfde. Seun van die timmerman en timmerman is een en dieselfde persoon.

As Petrus bely U is die Christus, die Seun van die lewende God, tref hy géén onderskeid tussen Christus en die God van Israel nie. Hy identifiseer Christus en God met mekaar. Petrus bely dus dat Jesus van Nasaret wat saam met sy dissipels beweeg het, een met dié God is wat deur die eeue in die tempel aanbid en vereer is. Die Ou-Testamentiese verlange was toegespits op die Een wat sou kom. Hierdie verlange was dus nie gerig op een uit vele leiers, konings en profete nie, maar op die Messias. Die voorstelling van Christus as God op aarde kan uit die Ou Testament afgelei word. Dit is immers wat die naam Immanuel (God by ons) impliseer.

Daarom bely die kerk Jesus Christus as die Eerste. Al die menslike leiers wat Hom voorafgegaan het, het géén versoening gebring nie. Ons bely Hom ook as die Laaste, want ná Hom verwag ons géén ander meer nie. Hy staan nie in die lang ry van mense nie – ons bely Hom immers as ons Here, die eniggebore Seun van God.

Gesang 309: 2; Gesang 330: 1-3

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link