Lukas 13: 31-35

Hierdie beeld wat Jesus gebruik van ’n hen en haar kuikens, is vreemd. Beskerming en versorging is ’n vreemde gedagte om diegene wat Hom eintlik wil doodmaak mee aan te spreek. ’n Kuiken is gewoonlik broos, nietig en swak nadat dit uitgebroei is. Onder die hen se vlerk is die kuiken tog veilig, warm en beskut.

God wil ons beskerm en Hom oor ons ontferm soos ’n hen oor haar kuikens. Maar Jerusalem (en ons!) wil nie altyd luister nie. Daardie onverskillige skare in Jerusalem wat daarop uit is om Jesus te vervolg, noem Hy sy kuikens! Hy wil hulle graag onder sy vlerk huisves, daar waar warmte en liefde is. Maar hulle wil nie. Die kuiken moet die skuiling wil hê (in ons geval), want God dwing niemand! Keer op keer bied Hy sy liefde en genade aan, maar soms soek ons dit nie. Keer op keer kom ons voor Jesus te staan en is ons bereid om Hom eerder te kruisig as te volg!

Hierdie soort trots was Jerusalem se ondergang. Ongelukkig is daar altyd ’n Golgota by die hekke van Jerusalem. Dit is nie maklik om die koninkryk wat Christus verkondig, uit te leef nie. Ons kruisig Hom gewoonlik sonder dat ons daarvan bewus is, maar in hierdie teks gee Christus self die gerusstelling dat Hy die een onveranderlike is en sy werk sou afhandel. Ons is maar kuikens – kuikens wat deur die moederhen beskerm wil word. God wil ons beskerm. Hy wil vir ons lief wees. Hy wil vir ons die geborgenheid bied wat deur Christus aan ons elkeen beloof is. Ons moet net kuikens wees wat daardie beskerming wíl ontvang.

Ten spyte van die inwoners van Jerusalem se gesindheid en optrede, het Jesus steeds daarheen gegaan! Hy was steeds bereid om daardie kruispad te stap, dit enduit te voltooi, omdat Hy geweet het dit is wat die Vader wil. Dit is waardeur die Vader verheerlik sal word. Dit is hoe die mens gered sal word!

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link