Jeremia 41: 1-9

Wie is die 80 mans wat hul offers na die huis van die Here bring? Levitikus 19: 27-28 sê uitdruklik: Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here Hierdie 80 mans met afgeskeerde baarde en self-toegediende wonde kan sekerlik nie van plan wees om offers na die huis van die Here wat dít sê, te neem nie. Hul gebruike dui eerder aan dat hulle aanbidders van Baäl of Astarte is.

Om die baard te skeer of tatoeëermerke te kry, is nie inherent sondig nie, maar in die antieke wêreld wys sulke gebruike heen na die God of gode wat deur die persoon aanbid word. Daarom verbied die wet van Moses daardie en soortgelyke dinge. Die God van Abraham mag nie as gevolg van sy mense se gebruike met die natuurgode van die heidene verwar word nie.

Vandag sal ’n baard en/of tatoeëermerk, of die afwesigheid daarvan, nie as ’n godsdienstige gebruik herken word nie. Tog is daar gebruike wat na die God van die Christene heenwys of nie. God was byvoorbeeld die voete van sy ondergeskiktes, en daarom wys nederigheid en diensbaarheid na Hom heen. Mense wat kelners uittrap oor ’n vuil tafel of ’n kassiere berispe omdat daar winkeltrollies oral rondstaan, kan sekerlik nie volgelinge van daardie God wees nie. Hul gebruike dui eerder daarop dat hulle ’n hoogmoedige god aanbid wat slegs diens verwag.

Mense wat in nederigheid self die tafel afvee of die trollies wegstoot, kan herken word as mense wat hul offers na die huis van God bring en wat nederig onder sy mense dien. Ons besoeke aan die huis van die Here sê minder oor ons God, as die gebruike wat ons op die pad na daardie huis beoefen.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link