Johannes 2: 23-25 

Met Epifanie vra ons na die betekenis van God se verskyning in Jesus. Ons dink na oor die betekenis van sy koms en toets daarmee opnuut ons eie verwagtinge oor Jesus en wat Hy ons bied. Ons Skrifgedeelte is ’n belangrike inleiding tot die gesprek met Nikodemus, wat in die volgende dagstukkies bespreek word. Hier sien ons hoe maklik mense verkeerde verwagtinge van Jesus koester.

Met die paasfees in Jerusalem, ná die tempelreiniging, doen Jesus wondertekens, en baie mense kom tot geloof in Hom. Hierdie wondertekens was waarskynlik meestal genesings, soos blyk uit wonders in die ander Evangelies. Sulke genesings wys vir toeskouers dat Jesus in staat is om hul omstandighede te verbeter: Hy bring ’n einde aan die lyding wat siekte bring, en siekes kan weer hul plek in die samelewing inneem en ’n normale lewe lei. Jesus lyk na ’n helper by uitstek, iemand om op te reken om jou nood te verlig. Dit is tot jou voordeel om van Hom kennis te neem en te erken dat God deur Hom werk.

Jesus stel nie sy vertroue in hulle nie, Hy weet hoe mense is. Niemand hoef Hom oor mense iets te leer nie. Mense hou van die aanskoulike en die onverklaarbare. Hulle fokus op dit wat dalk vorentoe tot hul eie voordeel mag strek, sonder dat dit ’n aanspraak op hul lewens maak. Regdeur die Johannes-evangelie is die geloof van die mense wat op grond van wondertekens tot geloof kom, van korte duur. Dit hou nie stand nie. Geloof wat hou, is die geloof van mense wat Jesus se woorde aanvaar. Sy woorde maak God bekend en wys dat God die hart van ’n vader het.

Toets opnuut jou verwagtinge van Jesus.

Gesang 271: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link