Handelinge 17: 16-33

Daar is ’n spreekwoord wat lui: Indien jy vir niks staan nie, val jy vir enigiets. Dit laat ons nogal nadink oor dit wat saak maak. Dit laat jou vra na jou eie waardes.

Paulus is in Atene en hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Dit getuig van hul godsdienstigheid. Terwyl hy in die Areopagus staan en getuig oor die Opgestane Christus, sê hy dat hy tussen al die afgodsbeelde selfs ’n altaar gesien het waarop staan: Aan ’n onbekende god. In hul aanbidding van al die verskillende afgode, maak hulle dus voorsiening vir ’n god waarvan hulle dalk nie weet nie. Hulle aanbid alles en tog ook niks. Hulle dink dat hulle al die verskillende afgode dien, maar eintlik dien hulle nie enige god nie. Eintlik staan hulle vir niks en val hulle vir alles.

Hier gaan staan Paulus en hy getuig van God wat alles geskep het en as Skepper steeds teenwoordig is en alles instandhou. Nie net het God geskep nie, Hy het ook sy Seun gestuur as Verlosser wat die dood oorwin het en wat die lot van die wêreld kom verander het. Met die opstanding uit die dood het Christus die geskiedenis van die wêreld verander.

Die onbekende god wat die Ateners aanbid het, is Jesus Christus. Hy wat vir die wêreld onbekend is, is die Verlosser aan die kruis wat nuwe betekenis en inhoud aan die lewe van die mense kom gee het. Dit is Hy wat Paulus in Filippense 3 laat uitroep dat wat eers ’n bate was, nou ’n las is en dat al wat hy wens, is om Christus te ken en deel te hê aan die opstanding uit die dood. Dit wat eers belangrik was, is nou waardeloos.

Waarvoor staan ons? Wat is vir ons belangrik? Waar staan ons? Staan ons tussen ’n klomp dinge wat eintlik niks is, of staan ons by die leë graf en voor die Opgestane Christus wat nuwe inhoud en betekenis aan ons lewe gee? Mag ons elkeen getuig van die Opgestane Christus.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

Share via
Copy link
Powered by Social Snap