Prediker 9: 3-10
Die Prediker kyk na die lewe vanuit die gesigspunt van mense wat buite God om sin, doel en vreugde in die lewe wil skep met eie prestasies en materiële sekuriteite. Hy maak dan die gevolgtrekking dat alles tevergeefs is en tot niks kom. Hoeveel vreugde kan jy dan ervaar? Daarteenoor stel hy die lewe as gawe uit die hand van God en dit, sê hy, bring dankbaarheid en blydskap. Hy wil mense leer om in die alledaagse lewe met God saam te leef. So wil hy godsdiens prakties maak.
In die gelese gedeelte beskryf hy die lewe as ’n fees (vers 7), as teenpool vir die morbiede doodsheid van die graf (vers 5). Lewe is belangriker as dood, want lewe beteken ’n kans en geleentheid om God te loof en elke dag vanuit sy seëninge te leef. Geloof in die oorwinnende almag van God maak die lewe een bondel vreugde, ondanks lyding en ellende.
Elke gelowige kan ook in vreugde en dankbaarheid leef, omdat die lewe ontvang word uit die hand van God wat alle magte oorwin het. Jesus se opstanding verkondig immers die vernietiging van alle magte. Selfs die dood wat dreig om die lewe te verslind, is van sy mag beroof. Die mens in sy verganklikheid is nie opgewasse teen die dood nie. God is wel. Sonder die opstanding van Jesus is die boodskap van die Prediker begrens. Paulus sê in 1 Korintiërs 15: 32: As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons!
Die opgestane Christus maak jou lewe een bondel vreugde. Dit maak jou lewe ’n dankbaarheidslewe wat elke dag konkreet sigbaar moet word in die wyse waarop jy alles in jou lewe doen en sê. Die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 90, stel dit so: Wat is die opstanding van die nuwe mens? Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
