Matteus 28: 11-20

Verskillende sonbrille verander die kleure wat ons sien wanneer ons na die wêreld kyk. So verander ons idees en aannames die manier waarop ons die werklikheid beskou. Dit wat ons deur onderrig en ervaring van die wêreld leer, raak die brille waardeur ons na die wêreld kyk. Die meeste van ons het twee of meer lense in die brille wat ons beeld van die werklikheid beïnvloed: geld, familie, kultuur, politiek, fisiese gesondheid en dieet, godsdiens, geloof, ekologie, ego, ensovoorts. Hierdie lense bepaal of ons die verskynsels wat ons teëkom as goed of sleg beskou, en die brille met die dikste lense word gewoonlik deur die maghebbers van bepaalde groepe uitgedeel.

Wanneer die wagte wat die graf opgepas het vir die leierpriesters gaan vertel van die werklikheid wat hulle ervaar het, gee die leierpriesters en familiehoofde vir die wagte ’n bril wat hul eie mag en invloed beskerm: Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel… Hulle beskou Jesus immers as ’n misdadiger en swendelaar. Deur daardie bril lyk ’n leë graf vanselfsprekend soos die kriminele optrede van ’n misdadiger se dissipels.

Jesus self gee egter aan sy volgelinge twee lense wat saam die bril vorm waardeur die koninkryk van God in die wêreld raakgesien word: die opdrag om te doop (God is ons Vader) en die opdrag om mense te leer om Jesus se onderrig te onderhou (liefde vir God en naaste). As ons Christus se leringe volg omdat ons God as Vader ken, leef ons reeds in God se koninkryk, en lewens in God se koninkryk eindig nie in die graf nie. Ons het ’n keuse tussen die lense wat God ons gee om die opgestane Here lewend in sy koninkryk te sien, of lense wat deur mense of ervaring gegee is om ’n gesteelde misdadiger in ons koninkryke te sien. Watter sal ons afhaal en watter sal ons ophou om vir ons ’n beeld van die werklikheid te gee?

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link