1 Johannes 4: 7-21
Die woord liefde, of ’n vorm van die woord, word 27 keer gebruik in vandag se teksgedeelte. Die gedeelte is ook die middelpunt van hierdie eerste brief van Johannes. Liefde is duidelik ’n baie belangrike deel van die boodskap wat hy aan hierdie gemeenskap van gelowiges wil oordra.
Johannes bevestig aan die begin van die hoofstuk dat Jesus mens geword het, en enigiemand wat nie daarmee saamstem nie, bestempel hy as ’n vals profeet. Maar vir Johannes gaan dit oor meer as net ’n paar woorde in die vorm van ’n belydenis wat gelowiges moet leer. Vir hom is dit die kern van Christenskap. Die Christelike geloof is ’n direkte uitvloeisel en uitdrukking van die geloof dat God Hom deur Jesus as die Christus aan die mens kom openbaar het. God het aan ons kom openbaar wie Hy is. En God is liefde. Enigiemand wat hierdie geloof aanneem, moet hierdie liefde ook bekendmaak aan die wêreld. Die liefde van God moet die manier wees hoe die wêreld ons leer ken. Nie net as ’n kenmerk van wie gelowiges is nie, maar as ’n kenmerk van wie God is.
Dit klink mos heel eenvoudig, nie waar nie? Maar is dit so maklik? God verwag van ons om dag na dag hierdie liefde uit te leef, dat ons ook sy liefde in hierdie gebroke wêreld sal sigbaar maak, dat die liefde wat Hy aan die kruis aan ons kom bekendmaak het, ook die liefde sal wees waarmee ons mense liefhet. Dit is eers wanneer ons hierdie onvoorwaardelike liefde kan leef, dat ons werklik sal besef wat God se liefde ook vir elkeen van ons beteken.
Soos ons in hierdie liefdelose wêreld leef, moet ons oë altyd op die kruis gerig wees. So sal die liefde wat God aan elkeen van ons gegee het, ook die dryfkrag in ons lewens wees. Ons moet dié liefde ook met ander deel, veral met dié wat niks met die liefde te doen wil hê nie. Geliefdes, God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom (vers 16).
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
