Numeri 6: 24-26

Die oudste Bybelteks wat ons het, ’n 2 600 jaar oue halsketting met die priesterseën uit Numeri daarop gegraveer, is in ’n graf in Jerusalem gevind. Tot vandag word hierdie seën in kerke oral uitgespreek. “Seën” is goeie woorde sê, woorde tot mense se beswil. Die effek van slegte woorde wat afbreek, verneder, kritiseer, ken ons. Goeie woorde bou op.

Die drie spreuke begin met die Here. Dit is Gód wat seën. Anders as in Afrikaans, waar die vertalers moes kies, sê die Hebreeus aldrie tye gelyk: het geseën, seën nou en sal seën. God seën almal. Die seën kring uit.

Die eerste seën ons alledaagse lewe. Die Here seën en beskerm. Dit beteken nie alleen maar voorspoed nie. Wát die lewe ook al inhou, jy lewe uit God se krag. Mense kan ook uit ander kragte wil lewe. ’n Mens bly kwesbaar, maar is beskerm in God se hand. Ons roeping: om dié seën te bewaar en te deel.

Die tweede seën ons geloofslewe, die verhouding met God. Dit is iets soos: God laat God se gesig oor jou skyn en gee jou genade. As die koning in die ou tyd sy rug gedraai het, was die persoon veroordeel. As die koning sy gesig na die persoon gedraai het, het die persoon genade en lewe ontvang. God se gesig na jou toe gedraai, beteken genade en lewe. Ons roeping: om God se gesig te weerkaats vir ander.

Die derde seën ons saamwees. Dit is iets soos: God tel God se gesig op oor mense en gee hulle vrede. “Gesig optel” is kyk na iemand met teerheid en deernis, geïnteresseerd en belangstellend, met vreugde en trots. God het vreugde aan mense wat uit God se krag en seën lewe, soos God bedoel het. Dié mens het vrede. Die Hebreeuse sjalom is meer as innerlike vrede of ’n gebrek aan stryd. Dit is innerlike en uiterlike vrede met alles en almal, volkome, soos God dit bedoel het.

Gaan dan nou in vrede met die seën van die Here…

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link