Job 42

Ons het die ware wysheid, so het Job se vriende geglo. Nee, ek het die ware wysheid, het Job geglo. Nie een van julle het die ware wysheid nie, was God se antwoord. Daarom bely Job hier: Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Met ander woorde, ons as mense kan U nie tot verantwoording roep as dinge nie gebeur soos ons dit wou hê nie. Dit lei tot Job se tweede belydenis: Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my

Wat is God se antwoord op die lyding van regverdiges? Voorspoed en lyding werk nie volgens ’n resep nie, net soos wat ons God ook nie in enige skema of resep kan indruk nie. Voorspoed en swaarkry, lewe en dood, is alles deel van ons bestaan. Lyding en swaarkry beteken dus nie God is besig om my te straf of het van my vergeet nie.

Wat beteken dit wel? Dit is deel van die lewe, net soos wat God se bystand ook deel van ons lewe is. Daarom, as dit op ons pad kom, moet ons daarby berus en op God vertrou. Vertrou sonder om te dink ons kan die uitkoms van ons vertroue bepaal en voorskryf hoe God behoort op te tree. Dit is immers wat ware vertroue beteken – om te vertrou en alles in sy hande te los.

God het nie aan Job verduidelik waarom hy ly nie. God antwoord bloot deur te wys wie Hy is en hoe groot Hy is, en dit moet genoegsaam wees. Genoegsaam om op Hom te vertrou. Vandag weet ons dat Hy deur Jesus Christus op ons lyding geantwoord het. Deur sy lyding weet ons, dit maak nie saak hoe swaar ons kry nie, God sal ons nooit versaak nie. Deur Jesus se lyding en oorwinning is ons verhouding met God so herstel dat ons in die sekerheid kan leef dat God met ons is, in voorspoed en in nood. En dit is genoeg.

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link