Openbaring 1: 9-20

In Openbaring 1: 9-20 vertel Johannes van ’n visioen oor Christus wat aan hom deur die Gees van God gewys is (Op 1: 10). Onder andere vertel Johannes dat die Een wat lyk soos die Seun van die Mens (Op 1: 13) in sy regterhand sewe sterre vashou (Op 1: 16). In vers 20 word gesê dat hierdie sewe sterre die engele van die sewe gemeentes is. Dus sluit dit aan by die beeld van die hemelruim soos onderskryf deur die antieke mense, naamlik: Die sterre in die hemel is hemelwesens wat van vuur gemaak is, en dit is die rede waarom hulle saans so blink. Verder is hulle die engele van die sewe gemeentes, want daar is geglo dat hierdie hemelwesens (sterre) ’n invloed op die wêreld onder die hemele gehad het.

Maar hierdie sewe sterre verwys ook na ’n baie spesifieke konstellasie wat in die Noordpool van die hemelruim sit, met die naam Die Groot Beer. Wat hierdie konstellasie so spesiaal vir die antieke gehoor gemaak het, is dat hulle geglo het dat alles in die hemelruim vanuit hierdie sewe-ster-konstellasie wentel en sprei. Dit was die spoel van die hemelruim.

Johannes van Patmos het hierdie oortuigings van sy gehoor goed verstaan en sê duidelik vir hulle wie die Een is wat na die sewe gemeentes omsien: Hy wat tussen die sewe lampe loop (Op 1: 12-13), dit wil sê, Hy wat self in die gemeentes teenwoordig is (Op 1: 20). Maar hy maak dit ook duidelik dat die ganse heelal nie onder die beheer is en instandgehou word deur die sewe-ster-konstellasie nie, maar deur die Een in wie se regterhand hierdie sewe sterre is.

Ons het ’n baie ander verstaan van die sterreruim in ons moderne wêreld, maar die boodskap van Openbaring weerklink vir ons vandag net so helder: Ons leef elke dag ons lewe in die wete dat Christus saam met ons wandel en dat ons ons lewens in die hande van Jesus leef.

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link